2010-7-21
Gekerf uit KLIP
Mnr. Suid-Afrika tot Mnr. Puma - Jimmy Stonehouse

Jimmy Stonehouse is uit klip gekerf. Elke spier van die voormalige Mnr. Suid-Afrika bult van ure se toewyding, hetsy in die gimnasium of om sy grysstof voor ’n televisieskerm te laat sweet wanneer videos ontleed word. Rotsvas. Dié Mnr. Puma. 

“Jy móét in jouself glo,” verduidelik die Pumas se breier. Dis nie net mooipraatjies nie, dis is ’n lewensleuse wat hy sedert sy skooldae in Ermelo volg.

As speler het hy vir die Suid-Afrikaanse Kolleges uitgedraf, toe die Blou Bulle se Cravenweek afgerig, al die pad tot in 2005 toe hy as Mnr. Suid-Afrika gekroon is.

Dit is ’n leuse wat sy trop Pumas in 2009 hul eie gemaak het.

Dit is Stonehouse se dryfweer: Die wete dat, kom wat wil, jy nét so goed is - dat jy die hoogte van jou plafon bepaal.  

 Hy is gebore, getoeë en hardgebak in Ermelo waar hy Suidoos-Transvaal in die Cravenweek verteenwoordig het. Voor hy vir sy verpligte nasionale diensplig moes gaan aanmeld, het hy vir ’n jaar by Ermelo Hoërskool klas gegee met Tegniese Tekeninge as sy hoofvak.

Dis ook dan hier waar sy afrigtingsloopbaan afgeskop het.

In 1990 skeur hy sy ligamente in sy knie en neem die leisels van dié skool se Onder 14 B-span. Hy was toe maar 26-jaar oud.

Onder sy mentorskap klop Ermelo die span van  Middelburg Tegnies in die eindstryd van hul liga en Stonehouse palm die eerste van vele trofees as afrigter in.
 
In sy tweede jaar van militêre diensplig word daar vir hom vergunning gemaak om die basis elke middag om 13:00 te verlaat en die skool af te rig.

Tussen 1991 en ‘97 brei hy Suidoos-Transvaal se skolespan, waar jonges soos Jaco Engels sowel as die ‘Bok-broers Gio en Jacques Cronjé deur hom geslyp is. Tussendeur het hy tot 1996 vir die Pumas op haker gesak.

In 2000 het hy sy gemaksone vir ’n bitterkoue Serbië verruil om Rusland se Onder 19-span af te rig en die daaropvolgende jaar het hy die Russe se Sewes-span onder hande geneem wat die Plaat-trofee by die Wêreldkampioenskappe verower het. 

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Dis ’n klomp harde ouens met min geld. Dit was ’n belewenis.”

Vir Stonehouse is rugby veel meer as bloot ’n sportsoort. As jou rug op die veld teen die muur is, is dit ’n litmustoets van jou deursettingsvermoë.

“Rugby is waar jy regte karakter leer ken. As dit swaar gaan trek dit mense bymekaar,” hy bly vir ’n oomblik stil, “Jy weet, as kinders na skool gaan studeer het en by my huis verby ry sonder om te groet, dan weet ek ek het iets verkeerd gedoen.”

Wat hom as afrigter onderskei is die vertroue wat hy in sy spelers plaas.

“Ek glo dat spelers moet speel wat hulle voor hulle sien. As hy in die moeilikheid is en nie weet wat om te doen nie, dan moet hy toepas wat hy geleer het. Ouens is deesdae dikwels te bang om hulself op die veld uit te druk as dit nie ooreenstem met die wedstrydplan nie. Ek glo nie daarin nie. Hy moet by die situasie op die veld kan aanpas en die vrymoedigheid hê om sy eie besluit te neem.

“Wat my die ongelukkigste maak is wanneer mense nie in hulself glo nie. Niks is onmoontlik as jy self glo jy kan dit vermag nie. Ek sê altyd vir die ouens hoe swaarder dit gaan hoe makliker moet ons as ’n span saamstaan.

“Jy moet nooit iemand anders die skuld gee wanneer dit nie met jou goed gaan nie.

“Dit is die bewustheid wat ons onder die ouens hier by die Pumas probeer skep. Die spelers het die spoed en hulle het die krag en moet net in hulself glo.”

Wanneer hy nie op die rugbyveld is nie, is hy permanent aan die oefen.

“Ek is die heeltyd in die gimnasium, maar ek is ook mal oor visvang.”

Praat van ’n voorbeeld stel. In 2005 wen hy die Mnr. Suid-Afrika-titel in sy gewigsklas en hy eindig sesde in die Mnr. Wêreldkompetisie in Frankryk.   

“Ek was nog altyd ’n armdrukker, toe sê my vrou een dag vir my ek moet liggaamsbou begin doen. Ek neem nie meer mededingend deel nie, maar ek het dit al oorweeg om weer vanaf 50 weer te neem,” vertel die 46-jarige Stonehouse.

Wat hy in liggaamsbou geleer het, pas hy op die veld toe.

“Daar is nie ’n sport wat meer dissipline vereis nie. Van jou oefenskedule tot jou dieet. Dit verg baie toewyding. Ek probeer ook vir die spelers ’n voorbeeld stel. As hulle in die gimnasium oefen, dan oefen ek saam.”

Hy het ook ’n innoverende streep in hom, soos sy besluit om na halftyd met ’n nuwe trui te begin.

“Ek het die besluit verlede jaar geneem. Wat is lekker om die tweede helfte met ’n papnat geswete trui te begin? Die ander rede is dat ’n nuwe trui ’n nuwe helfte en ’n nuwe wedstryd beteken. Maak nie saak wat het in die eerste helfte gebeur nie, dit word in die kleedkamer agter gelaat.”

Rugby is sy passie, maar by die huis dan is hy in sy element.

“Ek is ’n gesinsman. My vrou en my kinders is my lewe. Daar is vir my geen groter plesier as om tyd saam met hulle deur te bring.

“Ek het eintlik ’n klein hartjie,” bieg hy en lag: “Ek kan nogal ’n traantjie in ’n hartseer fliek pink.”

Sy gunsteling film? “Braveheart. Ongetwyfeld Braveheart!”

Soos William Wallace die Skotte in die film met voorbeeld tot onafhanklikeid gelei het en geveg het waarin hy geglo het, maak nie saak hoe groot is die uitdaging nie, só is Stonehouse.