2010-7-11
Bullebakkies geskors
Bakkies Botha by sy tugverhoor

Die Bokke se Bullebakkies Botha is Sondagoggend nege weke lank geskors vir sy lafhartige kopstamp op die All Black-skrumskakel Jimmy Cowan en sal nie vanjaar weer Drienasie-rugby speel nie.

Botha, wie met ‘n lang lys vorige veroordelings spog, kan sy sterre dank dat hy nie langer geskors is nie. Die onus is nou op die Suid-Afrikaanse rugbybase of hulle hom ooit weer sal kies, al dan nie.

Botha het Cowan in die openingsminute agter sy kop een met die neet gegee en so ‘n daad kan die Bokke ‘n toets of ‘n Wêreldbeker kos. Hy was juis reeds vir die eerste twee toetse van die jaar geskors en sal nou ook nog vier mis.

Die bullebak-slot is geskors tot en met 4 September, die dag van die laaste Drienasietoets teen die Wallabies.

Klagstaat:

• Botha is vroeër vanjaar vier weke lank geskors nadat hy gevaarlik in ‘n losskrum ingeduik het en kontak met Gio Aplon se gesig gemaak het;
• Hy het verlede jaar twee toetse teen die Britse Leeus misgeloop toe hy kontak met die stut Adam Jones in ‘n soortgelyke oortreding gemaak het, waarna die ‘Bokke swart armbande uit meegevoel vir hul spanmaat gedra het;
• In 2003 is hy agt weke lank geskors omdat hy kontak gemaak het met die Wallaby-haker Brendan Cannon se gesig.

Daar is geen twyfel dat Botha nou as ‘n gewoonte-misdadiger geklassifiseer kan word en dat die skeidsregters hul mes vir hom sal inhê en hom met arendsoë sal dophou.

Is daar dan enige sin om hom ooit weer te kies. Sy Springbokkontrak behoort dus ook onder die loep te kom.