2010-7-4
'Poorte muit vyf punte in Greenside
Jesse Geyer aksie N1
Roodepoort se doelwit om Saterdag vyf punte in Greenside teen Pirates is te samel, is bereik toe die Wes-Randers met 48-40 oor die Seerowers geseëvier.

Roodepoort blyk vanjaar te sterk vir die ander oop klubs te wees en hierdie span van Jaco Swart het reeds binne 20 minute 28-0 voorgeloop. Ongelukkig het hulle toe ‘n insinking beleef en hul voorsprong begin verdedig.

“Ons het te vinnig te veel punte gekry en toe verdedig ons vir ‘n lang tyd net. Kort hierna het ons ‘n geelkaart gekry maar ons het in beheer gebly. Maar die span het vasgebyt en die wedstryd mooi deurgetrek. Ons het ons doelwit om vyf punte teen Pirates te kry, bereik en ons is baie tevrede met ons vertoning,” sê Swart.

Vir die ‘Poorte het Juan Shaw, Jesse Geyer en kaptein Gareth Hemingway uitgeblink.

Punte: Drieë: Freddie van Zyl, Jessie Geyer, Johan De Waal, Thys Smit, Gerhard Scholtz, Thys De Villiers. Doelskoppe: Thys Smit (6). Strafdoele: Smit (2).