2010-7-31
Swartperd-resies
Mils Muliaina druk sy eerste verjaardagdrie - Foto: Gallo

Die Drienasiereeks word ‘n eenperd-resies met die All Blacks wat die Wallabies Saterdagoggend in Melbourne in ‘n amperse rekordoorwinning van 49-24 geklop het.

Richie McCaw se span het hul derde bonuspunt-oorwinning in drie toetse vanjaar behaal en net ‘n doelskop of twee het tussen die telling en ‘n rekordoorwinning gestaan.

Daar moet nog baie water in die see loop maar nie die Wallabies of die Bokke hoort nou op dieselfde veld as die span in Swart nie. Die Blacks was rustyd op pad na ‘n reuse oorwinning en toe Drew Mitchell kort na die hervatting van spel permanent die trekpas kry was die tafel gedek vir ‘n slagting.

Dit was half asof die Blacks die Wallabies begin jammer kry het en die voet van die lepel afgehaal het. ‘n Drie deur die haker Corey Flynn in die doodsnikke het die geleentheid geskep om ‘n vyftigtal te behaal, maar Dan Carter se doelskop was net-net skeef.

Mitchell het die puntefees ingelui toe hy ‘n Carter-skop kort na die afskop afgestorm het, maar die All Blacks het onmiddellik na die volgende afskop teruggeslaan toe Carter ‘n Berrick Barnes-skop afstorm om te druk.

En toe Mils Muliaiana die eerste van sy twee op sy 30e verjaardag na die volgende afskop druk was dit duidelik dat die Blacks te veel skietgoed het.

Muliaina het kort na rustyd weer gedruk, maar na Joe Rokocoko se drie moes hulle ‘n volle 20 minute wag voor Flynn verspotmaklik oorgeduik het.

Dit was die insinking wat die Aussies van ‘n slagting gespaar het.

Punte:

All Blacks: Drieë: Mils Muliaina (2), Dan Carter, Richie McCaw, Corey Jane, Joe Rokocoko, Core Flynn. Doelskoppe: Carter (4). Strafdoele: Carter (2).

Wallabies: Drieë: Drew Mitchell, Adam Ashley-Cooper. Rocky Elsom. Doelskoppe: Matt Giteau (3). Strafdoel: Giteau.