2010-7-10
 Cliffie Viljoen op 'n kraglopie - Foto: Chris de Vos Die FSS Kempton Wolwe pak Benoni Saterdagmiddag op Hans Moore se velde in ’n moet wen wegwedstryd. Die Wolwe beklee tans die derde plek op die punteleer en ’n wen is op dié stadium van die uitspeelgeveg onontbeerlik.
Johnny van der Merwe se span het verlede naweek ’n voorsprong van 17-0 teen Boksburg in ’n 24-23 nederlaag omskep nadat hulle twee weke gelede teen Vereeniging ook uitgebom het.
“Ons kanse lyk redelik goed,” het Van der Merwe gesê. “Ons sal hulle voor moet aanvat. Hulle hou daarvan om gesag af te dwing en dit is dan eerstens waar ons hulle sal moet stuit.”
Die kaptein en agtsteman, Wayne Havenga, sal aan die stuur van die agttal wees. “Hy het ’n baie goeie seisoen en bring elke wedstryd sy deel,” het Van der Merwe gesê. Agterlangs kan die tuisspan maar vooraf daarvan bewus wees dat hulle deur Nico Visagie se plettervatte gepeper gaan word.
Wolwe vs. Benoni: John Haywood; Werner Breytenbach, Andries Bronkhorst, Nico Visagie, Wikus Nel; Mossie Mostert, Johan van der Merwe; Wayne Havenga, Janus van Rhyn, Wian van Wyk, Cliffie Viljoen, Martin Lombaard, Thomas van Balen, Kevin Buck, Riaan Wilbers. |