2010-7-31
Leeuplesier
Jaco Taute teen Bulle

Die Blou Bulle het die Leeus Saterdag op Ellispark met hul beproefde resep waarin hulle groot druk in punte omskep 32-18 geklop, maar die Leeus het die eerste voorsmakie gegee wat vorentoe onder John Mitchell van hulle verwag kan word.

Jacques-Louis Potgieter was maar te bly dat hy die skeidsregter Marius Jonker as ‘n bondgenoot gehad het, want elke keer wanneer Jonker se arm omhoog geskiet het, het die vlagmanne s’n ook: Altesaam ses keer.

Potgieter se 27 punte, wat ook ‘n skitterdrie insluit, het die Leeus gesink, maar daar is ‘n nuwe gees in die Leeukamp te bespeur en dit het alles met die nuwe losskakel Elton Jantjies te doen.

Mitchell het ‘n tien gekies wat uiting aan sy spelpatroon kan gee en die Bulle het in ‘n stadium nie geweet wat hulle tref nie met die Leeus wat ‘n sluk hoë-oktaan koeldrank van die stadionborg gedrink het.

Deon van Rensburg het vroeg ‘n drie gedruk en daar was ‘n paar ander geleenthede wat die Bulle moes skarrel om die gate toe te stop, maar soos dit ‘n kampioenspan betaam het hulle nooit paniekerig geraak nie.

Dit is die eerste keer in jare dat daar ‘n flikkering van hoop onder Leeuondersteuners kan wees. Die jong Welpies het almal nuwe energie na die span toe gebring.

Hoe Frans Ludeke kan toelaat dat dat boewe soos Flip van der Merwe in sy span speel druis in teen al sy beginsels. Die Bokslot is ‘n Meneer, maar met sulke maniere sal niemand hom so aanspreek nie.

Wanneer speel die Leeus weer op Ellispark. Kan nie wag nie!

Punte:

Blou Bulle: Drieë: Gerhard van den Heever, Jacques-Louis Potgieter. Doelskoppe: Potgieter (2). Strafdoele: Potgieter (6).

Leeus: Drieë: Deon van Rensburg, Warren Whiteley. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (2).