2010-7-31
Amper weer 'n 100
Foto: Mario van de Wall

Die Pukke het Union Saterdag op die Fanie amper die tweede keer die seisoen met ‘n 100 punte afgestof met hul 92-5 sege oor die Bulldogs, wat geen byt in hulle gehad het nie.

Union het die eerste punte van die wedstryd aangeteken toe  JP Meyer binne die eerste paar minute ‘n onderskepdrie gedruk het. Ongelukkig was dit egter die enigste punte wat die Bulhonde die heeldag sou aanteken.

Want die Puk het die doellyn hierna met reëlmaat oorgesteek en dit was goeie oefening vir die Intervarsity teen Kosies wat net om die draai is. Van drieë druk kan mens die Pukke teen dié tyd niks leer nie.

Jaco Lotter was die eerste Puk om die doellyn oor te steek en daarna het 14 van sy spanmaats gevolg. Willem Barnard het vier drieë (drie daarvan agtereenvolgens) gedruk en ‘n paar verdoel, Wouter Watermeyer het twee keer gedruk, PJ van Zyl het twee keer gedruk en nuweling Charlie King het twee keer gedruk.

Die Puk het binne 20 minute reeds hul bonuspunt vir vier drieë behaal.

Wie sonder mens uit in so ‘n eensydige affêre? Dit was interessant om King agter die skrum in aksie te sien. Hy is ‘n baie goeie speler en dalk die vinnigse skrummie wat die Puk die laaste tyd ingespan het.

Die Ibbies het vroeër 146-0 geseëvier en die manne het beurte gemaak om te druk. Dit het in ‘n spektakel ontaard en mens kan met reg vra of hierdie soort scenarios in klubrugby toegelaat moet word.

Die Studente is ten volle professioneel en klubspanne reis ten duurste Potchefstroom toe vir groot drae slae.

*Union het net Potch toe gereis om hul verpligtinge na te kom. Soos gewoonlik het die meeste van Union se eerstespan-manne skielik Pukkelaitis ontwikkel – ‘n toestand waarin ‘n klubspeler nie kans sien om te kyk hoe die een Puk na die ander oor die doellyn draf nie.

Punte:

Pukke: Drieë: Willem Barnard (4), Wouter Watermeyer (2), PJ van Zyl (2), Charlie King (2), Dirco Rautenbach, Stoof Bezuidenhout, Johannes Seerane, Gerhard Nortier, Jaco Lotter. Doelskoppe: Malan van der Merwe (4), Willem Barnard (2), Ruan Jacobs (2).

Union: Drie: JP Meyer.