2010-7-31
Verspeelde kanse
Zandré Jordaan het twee drieë aangevoer - Foto: Gallo Images

Die bal het net nie reg gehop nie en ‘n paar een-op-een têkkels is gemis. Dit was Saterdag in Wellington die groot verskil vir die Boland in die Oostelike Provinsie Kings se oorwinning van 33-22.

Volgens die Boland se afrigter Eugene Eloff het sy spelers net nie hul kanse gebruik nie en ‘n paar kritieke têkkels gemis. “Ons moet ons verdediging opskerp want dit is hier waar ons die wedstryd verloor het. Die Kings het twee vinnige drieë gedruk en boonop het die bal net nie vir ons reg gespring nie.”

Eloff was egter baie tevrede met die drie drieë wat sy span gedruk het. “Ons het drie briljante langafstand-drieë gedruk terwyl die OP dryfdrieë gedruk het. Dit het my opgewonde gemaak. Ons weet op ‘n ander dag kan ons die bordjies verhang, hoewel hulle op papier gewis die sterker span is,” som hy die wedstryd op.

Die OP se eerste drie was deur stut Riaan Vermeulen gedruk nadat Jacques Potgieter ‘n sterk lopie gehad het en die tweede, nog ‘n kragdrie, deur groot nommer agt Darron Nell.

Die Boland se eerste ligawedstryd verlede week teen die Valke was verspotmaklik terwyl die Kings reeds twee wedstryde agter die rug gehad het. Dit het gemaak dat hulle skerper in hul uitvoering was.

Zandré Jordaan was die keur van die Bolandse krop.  Hy het ‘n belangrike rol gespeel in twee van sy span se drieë - deur Jeremy Plaatjies en PJ Vermeulen.
 
Die Boland reis Saterdag na George waar hulle die SWD Arende aandurf, wat Saterdag met die Griffons klaargespeel het.

Punte:

Boland: Drieë: Jeremy Plaatjies, PJ Vermeulen, Cornal Hendricks. Doelskoppe: Jacquin Jansen (2). Skepdoel: Willie le Roux.

OP: Drieë: Wayne Stevens, Pietie Ferreira, Darron Nell, Riaan Vermeulen. Doelskoppe: Justin Peach, Mzwandile Stick. Strafdoele: Peach (3).