2010-6-19
 Morne Steyn score teen Italie Die Springbokke kon Saterdagmiddag in Witbank nie kole gooi in ‘n onoortuigende oorwinning van 29-13 oor Italië nie. Die Bokke het veral in die tweede helfte met die wind in hul seile drooggemaak en nie op hul rustyd-voorsprong van 22-3 gekapitaliseer nie.
Dit was die eerste rugbytoets nog in die Steenkoolstad en die Bokke het die stadion met roet op hul gesigte verlaat en bitter min van die draers van die Groen-en-Goud kan tevrede met hul vertoning wees.
Pieter de Villiers se gebrek aan kontinuïteit deur elke Saterdag ‘n verskillende span te kies het die Bokke Saterdag ingehaal. Behalwe vir die skrums, wat aanvanklik klopdisselboom gegaan het, het die Bokke in geen ander afdeling van die spel oortuig nie.
Morné Steyn was moontlik die enigste uitsondering en dit was gepas dat hy die tweedehelfte-drie gedruk het. Hy het die wind in sy seile skitterend gebruik maar die Bokke kon nie die gebiedsvoordeel gebruik nie.
Die Bokke was in die eerste helfte onder druk en Italië het groot gebiedsvoordeel geniet, maar drie skitterdrieë deur Bryan Habana, Francois Louw en Zane Kirchner was al drie puik stukkies werk.
Habana het gedruk die eerste keer toe die Bokke in die Italianers se kwartgebied gekom het danksy ‘n slim rolskoppie van Kirchner, Louw het gedruk danksy ‘n rolmaalbeweging van ‘n lynstaan af en Kirchner het gedruk nadat Ricky Januarie steelkant gespeel het.
Die Italianers het die tweede helfte gewen en die kaptein Sergio Parisse het ‘n welverdiende drie gedruk en Jean de Villiers later non-chalant uit die pad gehardloop.
Toe die skemerte oor Witbank begin toesak was dit die besoekers wat die Bokspan op hul doellyn onder druk gehad het.
Of De Villiers se taktiek om ‘n groot groep spelers aan toetsrugby bloot te stel, sal waarskynlik eers aanstaande jaar beantwoord word, maar vir nou is dit nie geslaagd nie.
Punte:
Springbokke: Drieë: Bryan Habana, Francois Louw, Zane Kirchner, Morné Steyn. Doelskoppe: Steyn (3). Strafdoel: Steyn.
Italië: Drie: Giovanni Parrisse. Doelskop: Mirco Bergamasco. Strafdoele: Bergamasco.
|