2010-8-1
Dubbele Springs-vreugde
Springs se Onder 21's jubel - Foto: Jaco Pretorius

Daar was dubbele vreugde Saterdagaand by Springs nadat die Eerstespan en die Onder 21’s albei as Valke-kampioene gekroon is. Springs het die senior liga gewen deur Vereeniging 42-21 te klop nadat hy in ‘n stadium 3-16 agter was en die Juniors het die Wolwe in die doodsnikke 32-31 verslaan.

Dit was vir die Voorsitter, Johann van den Berg ‘n groot jaar, veral nadat sy seun Hendrik die Onder 21’s se wendrie gedruk het, wat skitterend uit die hoek uit deur Neil Erasmus verdoel is.

Met die oorwinning het Springs ook seker gemaak dat hulle weer in September aan die Nasionale Klubkampioenskappe deelneem. Dit was die twaalfde keer dat die klub die liga die afgelope 13 jaar wen.

Springs was rustyd nog 16-13 agter, maar het rustyd met ‘n nuwe stel truie soos ‘n nuwe span gespeel. Die Speler van die Wedstryd was die flank Louis Otto wat skitterende rugby gespeel het.

“Louis was baie goed, maar ek moet eerlik sê dat almal hul deel gedoen het. Ek kyk bietjie anders na die game, kyk of almal by die strukture hou en binne die game-plan speel,” sê die afrigter, Kobus van Rooyen.

Die losskakel Dawie van Nieuwenhuyzen het altesaam 22 punte aangeteken, en gedrop, score en place terwyl Armand Steynvaart twee drieë gedruk het.

“Dit was ‘n skitterende dag. Ons het van die oggend 08:00 af jeugrugby op vier velde gespeel en hulle het eers saam met die eerstes klaargemaak,” sê Van den Berg,

*Die Onder 21’s het groot guts gewys en van agter gekom om die Wolwe te klop. Die Wolwe het albei ligabepalings vanjaar gewen.

Punte:

Springs: Drieë: Armand Steynvaart (2), Dawid de la Port, Tobie Strydom, Dawie van Nieuwenhuyzen. Doelskoppe: Van Nieuwenhuyzen (4). Strafdoele: Van Nieuwenhuyzen (2). Skepdoel: Van Nieuwenhuyzen.