2010-7-9
Poorte Mentz-ig sterk
Henno Mentz in Leeukleure

Die Springbokvleuel Henno Mentz draf Saterdag in Potchefstroom vir Roodepoort teen die Pukke uit maar die ’Poorte se kaptein Gareth Hemingway sal dié groot stryd weens ’n skouerbesering misloop.

Dit is so dat Roodepoort oor die voorste driedrukker en puntemaker in die liga beskik. Dit is so dat Roodepoort die voorste oopklub in die liga is. Maar dit is ook so dat die Puk ‘n professionele span is. Mentz se beskikbaarheid is ’n groot inspuiting vir die ‘Poorte.

Mentz het sy rugby by die Puk geleer waar hy 33 keer vir die Luiperds gespeel het voordat hy die Sharks-trui 65 keer gedra het en toe koers gekry het Johannesburg toe.

Maar Jaco Swart is baie versigtig om ‘n voorspelling te waag vir Saterdag se stryd op die Weermag se veld in Potchefstroom teen die Puk.

Die Poorte se senter Johan de Waal is die voorste driedrukker in die liga met 13 en Thys Smit die voorste puntemaker op 143.

Die vorige keer wat hierdie twee spanne kragte gemeet het, was dit die Puk se Onder 21’s wat 64-18 geseëvier het.

Daarby spog die Puk en Roodepoort elk met ‘n honderdtal nadat die Puk 107-0 teen Union gewen het het en Roodepoort 102-7 teen Vaal Reefs baas was. Die ‘Poorte is onoorwonne in sewe wedstryde is sedert hy teen die Universiteit van Johannesburg verloor het.

“Ons gaan 100% gee en as dit goed genoeg is vir ‘n wen, dan is dit wonderlik. Maar ons weet dat die Puk ‘n goed geoliede masjien is wat deesdae ‘n volle professionele span is. Ons is onder geen illusies oor hulle vermoëns nie. Daarby is dit nog ‘n tuiswedstryd ook,” sê ‘n realistiese Swart.

Ongelukkig reis Roodepoort sonder hulle ervare kaptein wat verlede week ‘n skouer beseer het. Sy plek word deur Nicky Cronjé ingeneem.

Straatkat van Zyl is terug op sy ou jagveld en dié ervare skrummie sal gedy tussen die studente wie hy so lank verteenwoordig het. Sy tweestryd met Andries Mahoney kan net aanskoulik wees.

Roodepoort vs. Puk: Jesse Geyer; Thys Smit, Marius van der Merwe, Johan de Waal, Henno Mentz; Johan Barker, Straatkat van Zyl; Gerhard Scholtz, Juan Shaw, Daniel Scholtz, Ronnie Goodman, Nicky Cronjé, Werner Engelbrecht, Thys de Villiers, Johan Prins.