2010-8-2
Poerie groet op hoogtepunt
Die Affie-span vir 2010 - Foto: Henry Kelbrick

Poerie van Rooyen het die Afrikaans Hoër Seunskool se seisoen Saterdagmiddag in Pretoria op klinklare wyse afgesluit deur 24 punte in sy span se sege van 54-32 oor Glenwood aan te teken.

Affies het agt drieë ingeryg, twee daarvan deur Van Rooyen wat vier verdoel het én twee stafdoele oorgeklits het.

“Poerie was uitstaande, maar so ook ons twee slotte, Gerbrand Grobler en Schalk van Heerden en albei senters Jaco Fourie en Brink Botha. Hulle het die ouens aan hul buitekant baie spasie gegee om in te hardloop,” het Sakkie van der Walt gesê.

“Ons het nie sleg gespeel nie, maar ons het ’n bietjie te veel punte afgestaan. Dit was 50/50 in die skrums en ons was beter in die lynstane.

“Dit was ’n baie harde, fisieke wedstryd. Die ouens het mekaar dood geduik. Hulle het ’n enorme pak voorspelers, ek weet nie waar hulle die ouens vandaan kry nie. Ek dog ons het ’n paar groot manne,” het Van der Walt geskerts.

“Ons het veels te veel foute gemaak waarop hulle in die eerste helfte kon kapitaliseer.”

Glenwood kon vier keer agter Affies se doellyn kuier hoewel dié wedstryd se uitslag nooit na die Durbaniete se kant toe oorgehel het nie.
 
“Ons het wel in die tweede helfte daarop verbeter en beheer oor die wedstryd geneem,” het Van der Walt gesê.

Affies se Graad 11’s sal aan Tukkies se Driedrukreeks deelneem. Vir die hardebaarde in die span is dit vaarwel en welgedaan.

Punte:

Affies: Drieë: Poerie van Rooyen (2), Pepler Stander, James Marx, Nardus van der Walt, WJ Strydom, Brink Botha, Tiaan Putter. Doelskoppe: Van Rooyen (4). Strafdoele: Van Rooyen (2).