2010-6-27
Driekuns vir Marutlulle
Edgar Marutlulle vs. Ikeys.JPG

Die voormalige SA Skole en Onder 19-haker Edgar Marutlulle het Saterdag op Milopark drie drieë in die Universiteit van Johannesburg se oorwinning van 55-44 oor Pirates gedruk.

Marutlulle, die groot uitblinker vir die Universiteit in die Varsitybeker, het vroeër die seisoen ook drie drieë teen die Madibas gedruk en is gewis ryp vir provinsiale rugby.

Die twee spanne het net een punt kort van ‘n honderd aangeteken en Pirates het waarskynlik hul beste vertoning van die seisoen gelewer dansky die inspuiting wat die witkopsenter Warren van Rooyen hulle gegee het.

Van Rooyen en die losskakel Morné Booysen was die span van Greenside se beste spelers hoewel die klub niemand in hul blink vertoning wil uitsonder nie.

Booysen, wat twee drieë gedruk het, het altesaam 24 punte aangeteken.

Behalwe vir Marutlulle moet die naam van die Studente se losskakel André Smith genoem word. Smith, ook ‘n voormalige nasionale junior speler, het altesaam 16 punte aangeteken en met sy taktiese skopwerk beïndruk.

Die UJ het agt drieë gedruk en Pirates ses.

Punte:

UJ: Drieë: Edgar Marutlulle (3), Trekker van Tonder, Pagina de Klerk, Lolo Waqa, André Smith, Danny Botha. Doelskoppe: Smith (4), Ryno Luus (2). Strafdoel: Smith.

Pirates: Drieë: Morné Booysen (2), Warren van Rooyen, Ross Smith,Willem Kloppers, Louwtjie de Jongh. Doelskoppe: Booysen (4). Strafdoele: Booysen (2).