2010-7-31
Lam(bie) ter slagting
Patrick Lambie druk sy tweede - Foto: Gallo Images

Die Cheetahs was Saterdagmiddag in Bloemfontein ‘n Lam ter slagting toe die jong Sharks-heelagter Patrick Lambie twee drieë gedruk het om die Haaie 25-13 te laat wen. Maar dit was die enigste opwinding van die dag. Gaap en nogmaals gaap.

Wie ook al in die Rosestad was, sal welliswaar vergoeding vir hul sente wil hê na sekerlik die verveligste wedstryd in die Curriebeker vanjaar. Doelloos, passieloos en verbeeldingloos vat dié kragmeting spaarsamig saam.

Nee, nee, twee spanne wat hulself daarop roem om toeskouers met sprankel-rugby te betower kan mos nie so speel nie. Maar, hulle het, 80 minute lank.  

Die Haaie het in die laaste tien minute drie drieë gedruk, hoewel die Vrystaat deurgaans na die beter span gelyk het. Voor dit was dit net foute, foute en ’n laaste maal: Gaap.

Louis Strydom het die Blikore in die 11de minuut met ’n strafdoel op die telbord geplaas en tien minute later doen die Haaie se Lambie dieselfde. In die 32 ste minuut druk Tewis de Bruyn en Strydom verdoel.

Hierna was daar egter niks om oor huistoe te skryf nie. Die Vrystaat het halftyd 10-3 voor geloop en die Haaie het na Eugene van Staden se drie in die 70ste minuut die oorhand geneem.

Lwazi Mvovo se hand was die Haaie se vernaamste klap, maar benewens hom en Lambie was daar bitter min hoogtepunte. Was daar nie vooraf gesê hierdie sou ‘n riller wees nie?  

Punte:

Sharks: Drieë: Patrick Lambie (2), Eugene van Staden. Doelskoppe:  Patrick Lambie (2), Strafdoele: Patrick Lambie (2). 

Cheetahs: Drie: Tewis de Bruyn. Doelskoppe: Louis Strydom. Strafdoele: Strydom (2).