2010-7-17
Watts skok Luiperds
Watts druk sy eerste rie - Foto: Gallo Images

Elgar Watts het het die Platinum Luiperds Saterdagmiddag in Witbank geskok toe hy 27 punte in die Pumas se sege van 37-32 aangeteken het, wat drie drieë ingesluit het.

Sy eerste drie is gedruk terwyl die Luiperds goed op die aanval was, maar die bal reguit in Watts se skoot te lande gekom het en hy net moes rieme neerlê en druk.

Sy tweede was ook danksy ‘n Luiperdfout waarna die bal vinnig oor die veld versprei is, voordat daai man Watts dit beetgekry het, getjip en sonder dat iemand voor hom is, gevang en gedruk het.

Die Luiperds het hulle eerste drie na ‘n halfuur gedruk toe Michael Bondesio op die halflyn om ‘n skrum gebreek het, die Pumas onkant gevang het en Deon Scholtz na ‘n tjippie die bal met in een hand bemeester en gedruk het.

Toe slaan die Watts-toorkuns weer toe: Die keer teen die kantlyn af om in die hoekie te druk, maar die Luiperds slaan vinnig terug en stuur Matyeshana oor vir die besoekers se tweede drie. Clayton Durand verdoel en die Pumas was rustyd net 19-12 voor.

Watts open die tuisspan se rekening in die tweede helfte met ‘n strafdoel, gevolg deur een van Durand voor hy weer toeslaan vir ‘n voorsprong van 25-15 met ‘n halfuur se spel oor.

Die plaasvervangers Pellow vd Westhuizen en Aranos Coetzee het dadelik impak gemaak en Ligtoring Landman weggestuur wat Scholtz vir sy tweede drie oorgejaag het.

Die Pumas slaan egter terug en stuur die blits Allistair Kettledas in die verste hoekie oor vir die eerste van sy twee drieë, maar die Luiperds antwoord net so vinnig toe Bondesio vir die teenstanders hakskene wys vir ‘n bonusdrie onder die pale.

Kettledas druk daarna die Pumas se vyfde drie met vier minute oor, Watts verdoel maar net toe almal dink die verrigtinge is verby met die sirene wat loei, speel Russell Jeacocks vinnig, vang Aranos Coetzee ‘n bal op sy voete en hardloop amper deur, en speel die bal binnetoe vir Jovan Bowles wat triomfantelik onder die pale oorduik.

Ten spyte van yf drieë elk het die Luiperds  in geen stadium voorgeloop nie en sal dankbaar wees vir die twee bonuspunte.

Punte:

Luiperds: Drieë: Deon Scholtz (2), Dumisani Matyeshana, Michael Bondesio, Jovan Bowles. Doelskoppe: Clayton Durand (2). Strafdoel: Durand.

Pumas: Drieë: Elgar Watts (3), Allistair Kettledas (2). Doelskoppe: Watts (3). Strafdoele: Watts (2).