2010-7-31
Naas se punte
Naas Olivier het die Luiperds kasty - Foto: Gallo Images

Hoogtepunte, laagtepunte en Naas se punte. Meer van die tweede as die eerste en 21 van die laaste. Griekwas het die Luiperds Vrydagaand op Profert Olënpark die Luiperds 41-27 in Potch geklop danksy Naas Olivier.

Na skaars vyf minute was die Luiperds se Dumisane Matyeshana so ampers in die regterkantste hoek oor en drie minute later druk Michael Bondesio onder die pale na ‘n goeie breekslag deur Jovan Bowles. Neill Jacobs verdoel én slaag met ‘n strafdoel ’n tree of drie van die halflynmerk om die Luiperds die pas 10-0 te laat aangee.
 
Yes, na die afskop was dit net Luiperds, ’n groen-en-rooi golf 20 minute lank.

Olivier moes tot die 23ste minuut wag om Griekwas met ’n strafdoel op die telbord te kry, maar het die Luiperds se Danie Crous kort daarna binnetoe getrap in stede van hoek toe te mik, kon die Luiperds 15-3 voor wees.

Maar toe hensop die Luiperds se ystersenter Walter Venter en die wedstryd verander soos handomkeer.

Bjorn Basson is dadelik langs die kantlyn af met Naas Olivier wat uit die hoek uit verdoel. En toe begin die hare waai…Griekwas se kant toe.

Nadat die Poubloues wéér omgekeerde besit bewerkstellig het, het Frikkie Spies gedruk, Olivier het verdoel en toe het hy, deur wat gelyk het na die hele Luiperd-span, gehardloop om te druk. Sy doelskop was in die kol. ’n Helfte wat aan die Luiperds behoort het was 24-10 Griekwas s’n.

Bondesio het die eerste punte na die omdraaislag aangeteken toe hy, nugter alleen weet hoe, deur ‘n lynstaan geglip het en ’n handvol verdedigers na lug laat tas het om te druk. Clayton Durand het die doelskop en strafdoel oor die dwarslat gestuur en die Luiperds was welverdiend weer terug in die wedstryd. 

Toe word Bondesio met Theo van Wyk vervang en, met die beste speler op die veld nou ’n toeskouer, is die Luiperds hul vernaamste wapen kwyt. ’n Dankbare Griekwas het deur Olivier nóg drie-punte bygevoeg.

Skeidsregter Jason Jaftha, oogklappe stewig op, vergeet dat hy voordeel vir die Luiperds speel, Sarel Pretorius onderskep en hardloop die lengte van die veld. Olivier verdoel en, 34-20 voor, is Griekwas buite die Luiperds se bereik, wrangsmaak in bek en al.

Met die klok wat na sy laaste asem snak slaan Bowles die bal aan, Basson raap op en druk Griekwas se vyfde vir die aand. Olivier slaag met sy sewende poging pale toe uit net soveel probeerslae.

En Potch voel skielik nog kouer.

Punte:

Griekwas: Drieë: Bjorn Basson (2), Frikkie Spies, Naas Olivier, Sarel Pretorius. Doelskopppe: Naas Olivier (5) Strafdoele: Naas Olivier (2)

Luiperds: Drieë: Michael Bondesio (2), Palm Koch. Doelskopppe: Neill Jacobs, Clayton Durand (2). Strafdoele: Neill Jacobs, Clayton Durand.