2010-7-30
Springs-trokke galaai...
Garnett Parkin, Pierre Foord en Kobus van Rooyen

Garnett Parkin het Vrydagoggend sy trokke gelaai, Pierre Foord het paaie by Pietersburg gebou, Jaco Pepler was besig om die aarde te verskuif en Dawid en Dieter de la Porte het sekuriteit verskaf.

So was elke lid van die Springs-span wat Saterdag op Olympiapark in die eindstryd van die Valke-liga teen Vereeniging opdraf, besig om hul brood-en-botter te verdien.

Theo Becker, Riaan Botha en Tobie Strydom werk al drie saam by Reclam, die skrumskakel Willem Kloppers werk vir die losskakel Dawie van Nieuwenhuyzen vir ‘n maatskappy wat vervoerbande maak.

Ensovoorts, ensovoorts.

Olympiapark is al soos ‘n tweede tuiste vir die manne wat regoor die Oosrand werk. Foord kon weens sy bedrywighede naby Pietersburg nie vandeesweek elke keer oefen nie.

Adriaan Klopper ry van Vereeniging af waar sy trokke steenkool vir Eskom aanry.

Saterdag span sekuriteit, trokdrywers, elektrisiëns, bestuurders en boukontrakteurs egter almal saam om Vereeniging op sy plek te sit.

Rugby is nie hul werk nie (hoewel die ekstra geldtjies ‘n gat of twee toestop) maar steeds is die Springs-familie ‘n hegte een.

Parkin speel al vandat hy 19 jaar oud is sy rugby net onderkant die verlate Pam Brinkstadion, en Foord al vir sowat tien jaar. Leon Lubbe is ook al ‘n permanente meubelstuk.

Weens hul werksomstandighede is dit nie altyd moontlik dat almal altyd saamoefen nie, en dan het die Valke se Amateurproewe ook sake die week deurmekaar gekrap.

Om ‘n oopklub te bedryf is egter nie kinderspeletjies nie. Vra maar vir die afrigter Kobus van Rooyen wat in die skaduwee van Ellispark sy brood-en-botter verdien. Of vir Johan van den Bergh wat nou by die Valke se kantore in Kempton sy dagtaak verrig.

Saterdag lei alle paaie egter na Springs…

Springs vs. Vereeniging: Dieter de la Port; Leon Lubbe, Armand Steynvaart, Dawid de la Port, Tobie Strydom; Dawie van Nieuwenhuyzen, Rudi Kloppers; Adriaan Klopper, Louis Otto, Theo Becker, Jaco Pepler, Morné Steenkamp, Garnet Parkin ©, Riaan Botha, Pierre Foord.