2010-7-19
 Bertus van der Merwe, Werner Breytenbach, Kevin Buck, Tomas van Baalen en Wayne Havenga - Foto: Chris de Vos En daar gaan staan en bêre die FFS Wolwe hul beste rugby van die seisoen in hul nederlaag van 37-18 in hul uitspeelwedstryd teen Vereeniging op die Hoërskool se velde.
Die telbord was gewis nie ’n akkurate weerspieëling van sake nie. Het die Wolwe ’n bietjie meer geluk aan hul kant gehad, kon hulle dié een in die sak gehad het. Maar, dit was net nie hul dag nie.
Die Wolwe het geen teenvoeter vir Vereeniging se groot pak voorspelers se rolmaalbewegings gehad nie. Vereeniging het meters en meters veld met hul drywe gewen wat die Wolwe se moed gebreek het.
Hoewel die Wolwe ’n voorsprong van 8-3 danksy ’n pragdrie deur Nandos Serfontein en John Haywood se stewel geniet het, is die tuisspan twee drieë op ’n skinkbord gegee om halftyd 20-8 voor te loop.
Met ’n losvoorspeler op skrumskakel was die Wolwe se diens aan losskakel Mossie Mostert bra stadig en die senters Nico Visagie en John Haywood kon sodoende nie hul emmersvol vaardighede tentoonstel nie.
Dan het die Wolwe ook hul die beste losvoorspelers, Serfontein en Wayne Havenga, vroeg in die tweede helfte weens beserings verloor.
In die eerste vyftien minute van die tweede helfte het die Wolwe weer kookwater-rugby gespeel en met ‘n mooi drie van slot Dewald van der Schyff sowel as Haywood se doelskop oor die dwarslat, was die gaping net twee punte.
Maar ongelukkig was dit waar die Wolwe se telbord vasgehaak het en Vereeniging beklink die stryd met nóg twee drieë om ‘n eindstryd teen Springs af te dwing.
Punte:
Wolwe: Drieë: Nandos Serfontein, Dewald van der Schyff. Doelskoppe: John Haywood (2). Strafdoel: Haywood (2).
Vereeniging se Onder 21-span het hulle onttrek wat beteken die Wolwe se span dring deur tot die eindstryd wat op 31 Julie teen Springs beslis word. Vir die res van die seisoen sal daar nou ‘n Sewes-kompetisie gespeel. |