2010-8-2
Grant maak sy merk
Dean Grant voeër die seisoen - Foto: Gallo Images

Die Maties het NNK Parow Saterdag in Stellenbosch 69-3 verkrag en elf drieë in die proses gedruk. Die plaasvervangers Dabeon Draghoender en Dean Grant het albei ‘n groot bydrae gelewer.

Draghoender het Louw Schabort na 40 minute vervang en twee drieë gedruk in sy eerste wedstryd terug na sy besering en Grant, wat vanjaar vir die Boland uitgedraf het, het in die sowat 20 minute wat hy op die veld was, ook ‘n groot impak gemaak.

Draghoender en Grant – ‘n ingenieurstudent - behoort vir die res van die seisoen sterk aanspraak te maak op plekke in die Matiespan.

Die vleuel Wilhelm Loock, wat in die Varsitybeker talle aanhangers gewen het met sy kraglopies, het ‘n driekuns vir die Maroentruie behaal en die haker Matthew Dobson het ook twee keer gedruk.

Die Maties het sonder Josh Strauss opgedraf wat klaarblyklik op ‘n proefgrondslag by die Leeus oefen.

Maties 69 NNK Parow 3:

Maties: Drieë: Wilhelm Loock (3), Dabeon Draghoender (2), Matthew Dobson (2), Pieter Stoffberg, Stephan de Villiers, Hugo Kloppers, Johan Herbst. Doelskoppe: Albertus Delport (3), Dean Grant (4).

*Die Vics het op Oranjezicht naelskraap 44-41 teen Hamiltons verloor en die senter Ryan Nel en die losskakel Coenie van Wyk het elk twee drieë gedruk.

Victoriane 41 Hamiltons 44:

Victoriane: Drieë: Ryan Nel (2), Coenie van Wyk (2), Gareth Light, Arno White. Doelskoppe: Van Wyk (3), Ruan Combrinck. Strafdoel: Van Wyk.