2010-3-6
Orkaan tref 'Hurricanes
Die Cheetah-orkaan Lionel Mapoe - Foto: Gallo Images

Die Hurricanes is van hul onoorwonne status gestroop nadat ‘n orkaan hulle Saterdag in Bloemfontein in die Cheetahs se oorwinning van 28-12 getref het.

Die ‘Canes, wat duidelik nie van hul lang vlug Suid-Afrika toe herstel het nie, het nooit na ‘n onoorwonne span gelyk nie, terwyl die Cheetahs nie ‘n duit gelyk het soos die span wat verlede week teen die Highlanders verloor het nie.

Hoede af vir Lionel Mapoe, Meyer Bosman, Naas Olivier, Juan Smith en Adriaan Strauss wat die heelaand in die Nieu-Seelanders se gesigte was.

Mapoe veral, het baie gevaarlik gelyk en hy het by meer as een geleentheid balle by die Hurricanes gesteel en op volle vaart weggetrek. Bosman het meneer-skoppe oorgesit en Olivier se algemene losskakelspel was uit die boonste rakke.

Die besoekers het wel twee drieë gedruk - die eerste toe Rodney So’oialo – ‘n skaduwee van die eens great speler – die bal na ‘n lynstaan opgeneem het en die bal vinnig wyd gespeel is vir David Smith om in die hoek af te rond.

Kabamba Floors – na Saterdag sekerlik weer in die ringkoppe se goeie boekies – het briljant in die hoek oorgedryf skaars twee minute nadat hy opgestuur is en twee ‘Canes se verdediging hom nie uit die veld kon boender nie.

Corey James het die Cheetahs in die 70e minuut laat skrik toe hy soos ‘n warm mes deur botter – die eerste ‘Cane van die aand wat dit reggekry het –gesny het om met drie Vrystates op sy rug daarin te slaag om die bal te druk.

Maar die Hurricanes lyk nie na ‘n span wat die Super 14 se halfeindronde gaan haal nie, tensy hulle uitrus, hergroepeer en kyk watter basiese foute hulle begaan. Twee spelers is vir geelkaarte afgestuur en hul dissipline by die afbreekpunte was swak.

Punte:

Cheetahs: Drie: Kabamba Floors. Doelskop: Naas Olivier. Strafdoele: Meyer Bosman (4), Olivier (2).

Hurricanes: Drieë: David Smith, Corey James. Doelskop: Willie Ripia.