2010-2-8
Cheetah Bokke kry voorkeur
Ashley Johnson Springboktrui

Ashley Johnson bo Frans Viljoen en Riaan Viljoen bo Hennie Daniller is die verrassings in die Cheetahs-span wat Vrydagaand in Bloemfontein teen die Bulls te staan kom.

Frans Viljoen, een van die uitblinkers in die Curriebekereindstryd verlede jaar, begin van die bank af en Daniller is sy plek in die 22-tal kwyt.

Johnson en Riaan Viljoen was albei einde verlede jaar lede van die Springbokspan wat in Europa getoer het. Johnson se skakelwerk en Viljoen se groot skopskoen het waarskynlik in hul guns getel toe die finale span gekies is.

Riaan Viljoen se Griekwa-spanmaat Naas Olivier begin in die losskakeltrui nadat hy ‘n fiksheidstoets geslaag het en hy sal ook die stelskopwerk behartig, met Viljoen wat waarskynlik die langer skoppe sal waarneem.

Die agttal, behalwe die keuse tussen Johnson en Frans Viljoen, het homself gekies met die Springbokflank Juan Smith terug as kaptein en Heinrich Brussow as sy flankmaat.

Die Cheetahs spog ook met twee Bokke in Wian du Preez en Adriaan Strauss in die voorry en dié twee saam met die belowende WP Nel sal die grondslag moet lê indien die Cheetahs Vrydagaand wil verras.

Riaan Viljoen en Olivier is die enigste twee Griekwas in die beginspan met Sarel Pretorius en Ryno Barnes op die bank.

Die keuse van jong Waltie Vermeulen op die bank is die ander verrassing in die 22-tal.

Cheetahs vs Bulls: Riaan Viljoen; Lionel Mapoe, Corné Uys, Meyer Bosman, Jongi Nokwe; Naas Olivier, Tewis de Bruyn; Ashley Johnson, Juan Smith ©, Heinrich Brussow, David de Villiers, Nico Breedt, WP Nel, Adriaan Strauss, Wian du Preez. Reserwes: Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen, Waltie Vermeulen, Frans Viljoen, Sarel Pretorius, Sias Ebersohn, Danwel Demas.