2010-7-31
 Gio Aplon step vir sy eerste drie - Foto: Gallo Images Aplon en Louw gee jou Aplouws en daarvan verdien die Westelike Provinsie baie in hul sege van 54-13 Vrydagaand op Nuweland teen die Pumas.
‘n Skitterende eerste helfte en twee drieë elk deur die flank Pieter Louw en die Springbokbuks Gio Aplon het die Pumas in hul fondamente geskud en dit was in die tweede helfte dat die Grystruie tot verhaal kon kom.
Aplon het sy kwaliteite vroeg onderstreep deur drie nommer twee en drie te druk nadat Louw die eerste van die aand aangeteken het. Met die rustydtelling op 35-3 was die Pumas reeds met die rue teen die muur.
Behalwe vir Aplon se twee, Louw se een en ‘n drie deur die kaptein Anton van Zyl, toe hy ‘n kort aangee ontvang het en skitterend in spasie gehardloop het, het die WP die besoekers stukkend getekkel.
Die Pumas se baldraers kon geen hond-haaraf maak teen die WP-verdedigers nie en ‘n boorling uit Puma-wêreld, Duane Vermeulen, het in dié opsig groot skade aangerig.
Ná rustyd was sake baie meer gelykop – 18-10 – om presies te wees, wat ‘n onderskepdrie vir die reserwe-losskakel Lionel Cronjé insluit.
Dit was juis die Pumas se plaasvervangers wat ‘n groot verskil gemaak het. Die skrumskakel Shaun Venter en lewendige haker Torsten van Jaarsveld het die drieë gedruk en met Ricardo Croy en Elgar Watts in die agterlyn was daar baie meer ritme.
Die WP het aanvanklik ook op Willem de Waal se voet staatgemaak om aan die gang te kom en na drie strafdoele was hulle net 9-3 voor voor vier drieë in twaalf minute die Pumas voor rustyd geknak het.
Behalwe vir daardie twaalf minute verdien die Pumas ook Applous – die gewone soort.
Punte:
WP: Drieë: Pieter Louw (2), Gio Aplon (2), Anton van Zyl, Lionel Cronjé, JJ Engelbrecht. Doelskoppe: Willem de Waal (4), Cronjé. Strafdoele: De Waal (3).
Pumas: Drieë: Shaun Venter, Torsten van Jaarsveld. Strafdoel: Elgar Watts. |