2010-7-31
Gelykopbois
Jean Nel en Christopher Bosch - Foto: Gallo Images

Die eerste rugbyspanne van die Hoër Jongenskool en Paarl Gimnasium het die louere Saterdag op Faurestraat in die Paarl met 19-elk gedeel ná afloop van ‘n spannende Interskole-kragmeting.

Soos die telling weerspieël was dit ‘n baie gelykop affêre tussen dié twee tradisionele aardsvyande. Hoewel Boishaai op ‘n kol gemaklik
19-12 voorgeloop het, verdien die Gimmies krediet vir die wyse waarop hulle teruggeveg het.

Die rustyd-telling was 13-12 in Boishaai se guns.

Boishaai het hul rekening vroeg in die wedstryd geopen met ‘n strafdoel deur die losskakel Gavin Hauptfleisch.

‘n Paar minute later het Gim egter teruggeantwoord met ‘n skepdoel deur hul losskakel, Lance Ruthford, om sake gelyk te maak.

‘n Strafdoel deur Gim se skrumskakel en kaptein, Willie Viljoen in die  15de minuut en ’n strafdoel deur Boishaai se Hauptfleisch in die 20ste minuut het gevolg, voor Boishaai die eerste drie van die wedstryd in die 22ste minuut kon druk.

Goeie samespel deur die Boishaaiers het tot dié drie deur Devon Williams gelei, met Hauptfleisch in die kol met die doelskop.

Viljoen het Gim met twee verdere strafdoele met rustyd binne bereik gehou.

Boishaai het in die tweede helfde wéér eerste bloed geruik met ‘n strafdoel, waarna hulle ‘n ruk ook meeste van die aanvalwerk gedoen het. In dié tydperk het Boishaai hul teenstanders se verdediging deeglik getoets, voor Hauptfleisch nog ‘n strafdoel kon oorklits.

Halfpad deur die tweede helfde het Gim egter met nuwe energie begin speel, wat uiteindelik gelei het tot ‘n drie in die 27de minuut deur die binnesenter Kobus van Wyk.

Van Wyk se drie was deur Viljoen verdoel om sake gelyk te maak.
Vir die res van die wedstryd moes Boishaai behoorlik hul keer ken, met Gim wat die een aanval ná die ander geloods het.

Klipharde verdediging aan albei kante het egter verdere drieë verhoed, met die gelykopstryd uiteindelik ‘n regverdige uitslag.

Punte:

Boishaai: Drie: Devon Williams. Doelskop: gavin Hauptfleisch. Strafdoele: Hauptfleisch (4).

Paarl Gim: Drie: Kobus van Wyk. Doelskop: Willie Viljoen. Strafdoele: Viljoen (3). Skepdoel: Lance Ruthford.