2010-7-31
 Hendrik van der Nest laat loop - Foto: Gallo Images Die Arende kan hul seëninge tel nadat hulle die Griffons Saterdag in Welkom 18-14 geklop het. ‘n Hanteerfout deur die Griffons se plaasvervanger-haker Derick van Heerden in die doodsnikke het die Perstruie ‘n oorwinning gekos.
Die Arende het die Griffons in die eerste 70 minute punteloos gehou en toe die laaste tien minute aanbreek 18-0 voorgeloop hoewel die Goudvelders die meeste speelwerk gedoen het.
Twee drieë, eers deur die agtsteman Willie Brits en toe deur die kaptein Werner Griesel, het die agterstand tot 18-14 laat krimp, maar Van Heerden se bottervingers met ‘n oop doellyn het sy span ‘n oorwinning gekos.
Die wedstryd is egter in die eerste uur verloor toe die Perstruie die meeste speelwerk gedoen het maar deur ‘n gebrek aan basiese vaardighede in die voet geskiet is.
Dit was eers toe True Blue Smit op losskakel opgestuur is dat die Griffons se agterlyn met enige vloei begin speel het, maar toe was dit te laat.
Die rustydtelling was maar 3-0 in die Arende se guns maar die besoekers het vroeg met ‘n drie deur die linkervleuel Joe Breytenbach en toe deur die senter Senithemba Zweni toegeslaan.
Die plaasvervanger-skrumskakel Jandré Blom het ook vir die Arende die wêreld se verskil gemaak.
Maar hoe sal die Griffons wens hulle het nie vir Van Heerden opgestuur nie…
Punte:
Arende: Drieë: Joe Breytenbach, Sinethemba Zweni. Doelskop: Ambrose Barends. Strafdoele: Barends, Jandré Blom
Griffons: Drieë: Willie Brits, Werner Griesel. Doelskoppe: True Blue Smit (2). |