2010-2-8
Leeukuil g'n onbekende vir Peyper
Conrad Burke pass Jaco Peyper duck bal

Soos ‘n Daniël van ouds kén die jong Cheetah-skeidsregter Jaco Peyper die Leeukuil goed vir Saterdag se groot Super 14-derby teen die Stormers nadat hy al vanjaar albei die Leeus se vriendskaplike wedstryde hanteer het.

Daarby was sy Super 14-buiging verlede jaar ook vir die einste Leeus teen die Highlanders. Kort voor daardie groot stryd op Ellispark het Jonathan Kaplan vir hom ‘n SMS gestuur: “Good Luck. It will be something like you have never experienced before.” Skaars twintig minute in die wedstryd het hy besef Kaplan was reg.

“Die tempo van die spel, veral onder die nuwe ELV-reëls, was asemrowend. Dit was ongelooflik vinnig en ek het besef Super 14-rugby is werklik op ‘n ander vlak. Gelukkig het ek die Leeus Vrydagaand teen die Pumas en vroeër ook teen die Bulle in hul friendlies geblaas so ek dink ek is redelik voorbereid vir Saterdag,” vertel hy, maar erken tog dat sy maag Maandagoggend ‘n ekstra draai gemaak het by die besef dat dit wedstrydweek is.

Peyper het in 2000, na ‘n rits kniebeserings, besluit om van speler na skeidsregter oor te slaan omdat hy nog steeds op die rugbyveld wou wees. Dié gebore en getoë Bloemfonteiner het op Grey en in sy eerste jaar op Shimlas nog rugby gespeel, maar die beseringspook het hom ingehaal.

“Ek dink ek was te klein vir die spel. Gelukkig het die Vrystaat uitstekende skeidsregters soos Arrie Schoonwinkel gehad wat skeidsregterskap vir my lekker maak,” vertel hy.

Peyper is dus al tien jaar ‘n blaser en beklee tans die sesde plek op SA Rugby se nasionale paneel. “My doelwit is om uiteindelik so gerespekteerd te wees soos ons voorste vier skeidsregters, Kaplan, Mark Lawrence, Craig Joubert en Marius Jonker. 
“Ek werk baie hard aan my fiksheid, veral terwyl ek nog jonk is. Ek glo nie ‘n skeidsregter kan ‘n verskoning hê as hy agter raak nie. Maar ek is nog nie so ervare soos die top ouens nie en ons hardloop partymaal nog langer paaie as hulle,” verduidelik hy.

Hoewel hy nie voor ‘n wedstryd enige fieterjasies het nie, hou hy tog daarvan om dieselfde roetine te volg en dieselfde kos te eet. Hy hou ook daarvan om die wedstryde wat hy geblaas het, weer op TV te kyk na die tyd om te sien watter foute hy gemaak het, maar ook om ‘n paar regmerkies te maak langs dié dinge wat hy goed gedoen het.

Oor die streng hantering van die tackle situasie draai hy nie doekies om nie. “Die vinnigste manier wat spelers gaan aanpas by hierdie reël is wanneer die skeidsregters dit streng blaas. Ek glo dit sal hulle twee tot drie weke neem, maar die lyn word getrek, dit is die enigste uitweg,” glo hy.

Al het ‘n skeidsregter het dan ook nie die bederf van ‘n kykweer nie, het ‘n skeidsregter volgens Peyper nie ‘n verskoning om iets te mis nie. “André Watson en Tappe Henning werk baie hard met die skeidsregters om ons op standaard te kry. Nie net tegniek, fiksheid en reëls nie, maar ook ons visie, persoonlikheid en reaksie op die veld.”

Wanneer hy ‘n breek van rugby nodig het, is hy en sy vrou Zenobia – hulle was pas een jaar getrou – lief om vriende oor te nooi en Jaco skroom nie om agter die kospotte in te skuif nie.