2010-3-6
 Chris Jonck vasgevat deur n Griekwa Die Leeus lei die Noordelike trop in die Vodacomreeks ná ‘n oorwinning van 34-13 Saterdag in Nigel oor die Valke, maar dit was nie ideale voorbereiding vir die stryd van die onoorwonnes komende Saterdag op Raiders teen die Blou Bulle nie. Inteendeel, met rustyd was die Valke 6-3 voor en die Leeus kon nie hond-haaraf maak teen ‘n span klubspelers nie. Die Leeus kon eers na rustyd, toe Jano Vermaak deur Chris Jonck vervang is, enige fases aanmekaar sit en is toe beloon met vyf drieë.
Vermaak was duidelik verroes en stadig en spel kon nie aan die gang kom nie. Op dié vertoning geoordeel sal die jong skrumskakel eers nog ‘n paar wedstryde moet speel voor hy vir hoër louere in aanmerking geneem word.
Die meeste van die eer moet aan die Leeus se voorspelers gaan – minus Jonothan Mokuena wat waarskynlik mediale ligamente seergemaak het en ‘n paar weke buite aksie kan wees.
Sy plaasvervanger Jaco Kriel was een van die uitblinkers en in tandem met Biscuit van Deventer het hulle gewys daar is steeds lewe vir sesflanke wat bal toe speel.
Minstens een lid van die Leeuspan, waarskynlik die senter Jannie Boshoff, sal vandeesweek Nieu-Seeland toe ontbied word nadat Dusty Noble sy knieligamente ernstig beseer het.
Met Deon van Rensburg reeds huistoe en Noble beseer is die Super 14-span sonder twee driekwarte.
Die span van Nico Luus meet Saterdag op Raiders kragte met die ander onoorwonne span in die Noorde, die Blou Bulle.
Die Valke, wat hul vaskop Sean Johnson na minder as tien minute verloor het, sal onder omstandighede tevrede wees met hul vertoning.
Punte:
Leeus: Drieë: Chris Jonck, Biscuit van Deventer, Justin Wheeler, Jannie Boshoff, Wigan Pekeur. Doelskoppe: Ruan Boshoff (3). Strafdoel: Boshoff.
Valke: Drie: Nico Engelbrecht. Doelskop: Jacques George. Strafdoele: Deon Anderson (2). |