2010-5-25
 Chrysander Botha Namibie Die Valke sal vir die Curriebeker deur twee Namibiërs, die langbeen-heelagter Chrysander Botha (foto) en die vleuel Llewellyn Winkler en die Bolandse senter Ernie Kruger versterk word. Botha was die Welwitchias se groot ster in die Vodacomreeks en is ‘n aanvallende heelagter en bo-gemiddelde stelskopper. Winkler het ‘n paar seisoene vir die Maties agter die blad gehad voordat hy in Windhoek gaan speel het. Kruger het die Valke ‘n paar seisoene gelede in 20 wedstryde verteenwoordig en twaalf drieë gedruk. Hy het die afgelope jaar-en-‘n-half vir die Boland gespeel. Die Valke het die Universiteit van Johannesburg se skrumskakel Haas Snyman ook in hul groep, maar het min aanwinste tussen die voorspelers. Hulle hoop om van die Leeus-spelers op hul oordraglys te bekom. Dan is daar ook sprake dat die slot Ruhan van Jaarsveld weer sy gewig by die Valke kan ingooi na ‘n draai by die Olifante.
|