2010-6-22
Groot kanonne terug
Gio Aplon klop Robert Ebersohn

John Smit voer ‘n volsterkte Springbokspan Saterdag in Oos-Londen in die tweede toets teen Italië - met die uitsondering van Victor Matfield – aan.

Smit het herstel van sy dyspierbesering en sy insluiting is een van sewe veranderinge aan die span wat nie te watwonders vertoon het in die eerste toets teen die Azzurri nie.

Matfield kry ‘n welverdiende ruskans en Bekker is ‘n waardige plaasvervanger wat aantree vir sy eerste toets van die jaar terwyl Schalk Burger ook terug is ten koste van Dewald Potgieter.

Gee Pieter de Villiers punte dat hy die gevaarlike klein buks Gio Aplon bo Zane Kirchner in die laaste vesting gekies het en hierdie is die beste moontlike span wat hy in die veld kan stoot.

Die senters Jaque Fourie en Juan de Jongh keer ook terug en Bryan Habana, Morné Steyn, Ricky Januarie, Pierre Spies, Francois Louw, Bakkies Botha, Jannie du Plessis en Gurthro Steenkamp behou hul plekke.

BJ Botha, Danie Rossouw en Wynand Olivier is almal op die bank ingesluit nadat hulle nie deel was van verrigtinge verlede week nie.

Manne wat glad nie die naweek in die prentjie is nie, is Matfield, Bandise Maku, CJ van der Linde, Zane Kirchner, Alistair Hargreaves, Bjorn Basson en Ryan Kankowski.

Springbokke vs. Italië: Gio Aplon; Jean de Villiers, Jaque Fourie, Juan de Jongh, Bryan Habana; Morné Steyn, Ricky Januarie; Pierre Spies, Francois Louw, Schalk Burger, Andries Bekker, Bakkies Botha, Jannie du Plessis, John Smit, Gurthrö Steenkamp. Reserwes: Chiliboy Ralepelle, BJ Botha, Danie Rossouw, Dewald Potgieter, Ruan Pienaar, Butch James, Wynand Olivier.